Die nuwe MF 9330 maak oesbeskerming maklik

Kliek hier om die Engels artikel te lees.

Ek wonder wat sou my pa en oupa gesê het as hulle dit kon sien,” sê Johan Landman van Volksrust in Noord-Natal.

“Dit is die spiksplinternuwe MF 9330 selfaangedrewe spuit wat die geledere van die Massey Ferguson-span by JaJoLa Boerdery kom versterk het. Oesbeskerming kan nou blitsig, noukeurig en pynloos geskied.

Johan onthou nog uit sy kinderdae hoe spanne werkers met bottels gif geloop het om dit by die kelk van elke mielie in te gooi om die ruspers dood te maak. Dit is nie al wat hy onthou nie:

“Ek is gebore in daardie geslag. Ek onthou dit nog baie goed, toe ek so vier of vyf jaar oud was het my pa-hulle vieruur in die more die osse begin inspan om te ploeg. Daar was ՚n rooi-span, swartspan en bontspan. Hulle het so vyfuur begin ploeg tot tienuur toe, dan word hulle uitgespan dat hulle kan gaan wei,” vertel hy verder.

Hy onthou ook toe die eerste Vaaljapie op die plaas aangekom het om die tweeskaarploeg by die osse oor te neem. Van toe af het dinge vinniger begin beweeg; daar kon heeldag gewerk word.

“Die trekker was paraffienaangedrewe: jy begin hom met petrol en as hy warm is, skakel jy oor paraffien toe. Na die Vaaljapie was dit die 35 en toe die 135; daarna die 65 Ferguson met sy lang neus, die 188’s het gevolg … so het dit aangegegaan, en ons is nog al die tyd by Massey Ferguson.”

Japie-en-Johan-LandmanSy seun, Japie, is die sesde geslag Landman wat op die grond boer, wat ook, net soos die rooispan trekkers, deur die jare aangevul is. Japie is verantwoordelik vir die saaiboerdery, terwyl pa Johan op die veeboerdery fokus. “Ek hou van die nuwe tegnologie,” sê Johan, “maar Japie is die een wat dit alles verstaan.”

Japie vertel dat hulle vorige spuit nie die kapasiteit gehad het om die werk te hanteer in die tyd tot sy beskikking nie. Hy het die MF 9330 in Brasilië gesien werk en met sy plaaslike handelaar, Werner Nel van JWL, daaroor begin gesels.

JWL is een van die gedugte span handelaars landwyd wat die topvervaardiger, AGCO, se reeks landboumeganisasie-oplossings versprei. In die AGCO-kraal is Massey Ferguson, Valtra, Fendt en Challenger.

AGCO het onlangs besluit om ՚n groter regstreekse invoer- en verspreidingsrol in Afrika te begin speel om die pad na die boer korter te maak.

Lenard Langenfelder, streeksverteenwoordiger van AGCO in die Oostelike streek, sê boere sal steeds by hulle bekende plaaslike handelaars al die produkte en dienste kry wat hulle nodig het, maar AGCO ondersteun die handelaars nou regstreeks met verkryging van produkte, tegniese kundigheid en bemarking.

AGCO se kantoorgedeelte by hulle reuse pakhuis in Kemptonpark is onlangs vergroot om die span te huisves.

Met AGCO se hulp het Werner gereël vir ՚n toetseenheid waarmee Japie ՚n goeie 250 uur lank gewerk het voor hy sy eie MF 9330-hoogloper in ontvangs geneem het.

Die spuit moes dadelik inspring, want die mielies het gekraak soos hulle groei na al die reën in die omgewing. ՚n Amptelike oorhandigingsgeleentheid is gereël vir 15 Desember en ProAgri was daar om die tegnologie te beskou.

Só lyk en werk die nuwe MF 9330-hoogloper

Die spuit loop werklik hoog. Japie sê grondvryhoogte is vir hom baie belangrik, want dit beteken hy kan ook laat in die seisoen werk wanneer die mielies hoog staan.

Die spuit het ՚n grondvryhoogte van 1,65 meter en die balk kan tot 2,1 meter gelig word of laat sak word tot 0,7 meter om ook doeltrefffend vir vooropkomsspuitwerk gebruik te word.

Die balk is 30 meter lank, maar stabiliteit oor ongelyke terrein is geen probleem.

Robbie Hall, tegniese produkbestuurder van AGCO, sê die derdegeslagspuit in die 9-reeks (dit is waarvoor die 93 in 9330 staan) is toegerus met ՚n Norac 9-ultrasoniese stelsel. Net soos ՚n vlermuis stuur en ontvang die eenhede klankgolwe om die hoogte te bepaal en te handhaaf. Jy kan kies of jy ՚n bepaalde hoogte bokant die grond of die plante wil handhaaf en die hoogte word in die ry aangepas.

Japie sê nog ՚n groot oorweging vir hom is dat die spuit reeds al die gevorderde presiesietegnologie bevat. “Jy hoef nie agterna nog allerlei pakkette en toerusting by te koop om presiesietoedienings met outomatiese stuurtegnologie te doen nie; dit is alles standaard op die masjien.”

Daar is twee raakskerms in die kajuit. Op die boonste skerm kan jy bepaal watter spoor die spuit moet volg en hoe die toediening moet geskied, en onder kan jy presies volg wat gaan aan in elke seksie van die spuit. Die inligting kan telematies na jou rekenaar in die kantoor of selfoon gestuur word, of deur die USB-poort afgelaai word.

Die balk kan in sewe tot nege seksies verdeel word en die afsluiting van ՚n seksie geskied met lugtoevoer wat meer onmiddellik is as die elektriese beheer van sekere ander spuite.
Die spuit kompenseer ook outomaties tydens draaie deur meer vloeistof na die buite-arm te stuur as na die binne-arm, sodat daar nie ՚n kol is wat oorbespuit word nie.

Alles gaan daaroor dat spuit egalig en presies voortwerk ongeag enige wisselende omstandighede soos ongelyke terrein. Daar is geen sweislaste aan die buigsame onderstel nie en selfs al lig die wiele oor hobbels of sak in gate in, bly die balk op ՚n konstante hoogte.

Japie sê wat hy ook waardeer is dat die tegnologie gevorderd, maar die werking eenvoudig is. Jy word nie oorweldig as jy by die kajuit inklim met iets wat lyk of dit in ՚n ruimteskip hoort nie: daar is ՚n stuurwiel, armleuningbeheer en twee skerms waarmee jy alles kan doen wat nodig is om ՚n gehalte oes te verseker.

Die 30 agter aan die 9330-reeks-nommer beteken die spuit het ՚n 3 000 liter tenk. Daar is ook ՚n MF 9335 met ՚n 3 500 liter tenk.

Met die 3 000 liter kom Japie baie ver en hervulling is maklik met behulp van die 568 liter/minuut hervulpomp wat water uit ՚n dam uit kan pomp sou dit nodig wees. Die tenk is toegerus met ՚n dubbelstel hidrouliese roerders vir goeie vermenging van spuitstof en as jy spuitstof wil ruil, word die tenk vanuit ՚n 240-liter skoonwatertenk skoongespuit met ՚n slingerende spuitstuk.

Daar is ook ՚n handewastenk met ՚n gerieflike armhoogte kraantjie. Om die spuitstof in die tenk te kry, trek jy die spuitstoftenk met sy wye bek van bo af tot heuphoogte om maklik te kan werk sonder vermorsing of gevaar.

Al vier die spuit se wiele geniet hidrostatiese aandrywing en ՚n dubbel-aksieklep sorg dat die wiele hulle nodige olietoevoer kry selfs al loop die enjin teen lae omwentelings soos 1 500 opm. Die voorwiele doen die draaiwerk en die draaisirkel is ՚n knap 7,6 meter.

՚n Betroubare 6,6-liter sessilinder AGCO Power-enjin is die hartklop van die spuit.

AGCO Africa Contact

Robert Keir

Brand Marketing Communications Specialist

Robert.Keir@agcocorp.com www.agcocorp.com

082 349 7441